Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 15 FEBRUARIE 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans, en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTELS

Dit is met diep leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutels van drie radioamateurs stil geword het.

Colin Baker, ZS5ED, is in die ouderdom van 91 jaar oorlede. Colin was ‘n ware radioamateur-heer op die lug, sowel as van die lug af. Hy was ‘n lid van die Durban Amateurradioklub vir langer as 50 jaar. Ons innige meegevoel aan sy vrou, Ursula, dogter Elizabeth en seun John, familie en vriende.

Ron Marlow, ZS1RON, het op Saterdag 7 Februarie ‘n stil sleutel geword. Hy was ‘n lid van die Valsbaai Radio-, Elektronika en -rekenaarklub tot twee jaar gelede, toe hy ernstig siek geword het. Ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

Dit is met leedwese dat ons ook aankondig dat die sleutel van Dieter Schliemann, KX4Y, stil geword het. Dieter was instrumenteel in die leiding en ondersteuning van verskeie sleutelaktiwiteite in AMSAT- en op die ARISS-program. Gedurende die talle jare wat hy op kontrak in Suid-Afrika was, was hy ‘n leiersfiguur in die Johannesburgtak en het baie van die tak se Duffweg-aktiwiteite ondersteun. Hy het ‘n taai stryd teen kanker geveg en net toe daar gemeen is dit is oorwin, is hy twee weke gelede met leukemie gediagnoseer. Ons innige meegevoel aan sy vrou, Tina en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

IARU-LEDEVERENIGINGS BEKRAGTIG NUWE LEIERS

LEDEVERENIGINGS VERKIES IARU-PRESIDENT EN -VISEPRESIDENT
AMATEURS SE NOODKOMMUNIKASIE HELP MET AUSTRALIESE VELDBRANDE

BELANGRIKE INTEGNET VOLGENDE WEEK

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

IARU-LEDEVERENIGINGS BEKRAGTIG NUWE LEIERS EN LAAT NUWE LEDE TOE

Op 10 Februarie het David Sumner, K1ZZ, die Internasionale Amateurradio-unie (IARU) se sekretaris, die stemme getel wat die IARU-ledeverenigings ingedien het.

Mosies wat aan ledeverenigings in September 2008 voorgelê is, het die verkiesing van ‘n nuwe IARU-president en -visepresident ingesluit, asook die toelating van twee nuwe Amateurradioverenigings tot die IARU. Volgens Sumner het 73 ledeverenigings deelgeneem; van hierdie stemme is 57 ‘ja-stemme’ nodig om die mosie te aanvaar.

Mosie nr. 241 was die bekragtiging van die nominasie van Timothy S. Ellam, VE6SH/G4HUA, om as president van die IARU, vir ‘n vyfjaar-termyn, wat op 9 Mei begin, te dien. Ellam is verkies met 72 stemme. Een stem is weerhou.

Mosie nr. 242 was vir die bekragtiging van die nominasie van Ole Garpestad, LA2RR, om as visepresident van die IARU vir ‘n vyfjaar-termyn te dien. Garpestad is met 73 stemme verkies.

Mosie nr. 243 het gehandel oor die toelating van die Emirate Amateurradiovereniging (EARS) as ‘n IARU-lidvereniging. Die mosie is met 72 stemme aanvaar; een stem is weerhou.

Mosie nr. 244 het gehandel oor die toelating van die Kazakhstan Federasie van Radiosport- en Amateurradio (KFRR). Dié mosie het 73 stemme ontvang.

Met die toevoeging van die Emirate-Amateurradiovereniging en die Kazakhstan Federasie van Radiosport- en Amateurradio is daar nou 162 IARU-ledeverenigings.

LEDEVERENIGINGS VERKIES IARU-PRESIDENT EN -VISEPRESIDENT

Timothy S. Ellam, VE6SH/G4HUA, is deur die ledeverenigings as die nuwe president van die IARU vir ‘n vyfjaartermyn verkies. Dié termyn neem op 9 Mei 2009 ‘n aanvang.

Tim sê hy sien daarna uit om met aldrie streke en ledeverenigings saam te werk. Baie kwessies word in die gesig gestaar in die aanloop na die 2011- Radiokommunikasiekonferensie, maar hy sien uit daarna om as ‘n span die uitdagings aan te pak. Hy het Larry Price, W4RA, bedank vir sy uitmuntende bydrae gedurende sy termyn as president. Die IARU is in ‘n stewige posisie as gevolg van Larry se leierskap. Sy ondersteuning en vriendskap was waardevol in Tim se termyn as visepresident.

Ellam is ‘n prokureur en beredderaar by die regsfirma McCarthy Tetrault LLP. Hy is vennoot in die firma se kantore in Calgary, Alberta en Londen. Sy wye wetskennis sluit in: Intellektuele eiendomsreg, korporatiewe bemiddeling rakende kommunikasie-aangeleenthede. tegnologie en energiesake, asook gebruiksregulasies.

Ellam het voorts sy gelukwense uitgespreek teenoor Ole Garpestad vir sy verkiesing as visepresident. In 1999 is Ole verkies tot die IARU-Streek 1 se uitvoerende komitee en hy het hy het die IARU se Administratiewe Raad verteenwoordig. Voorts het hy ook die konferensies van Streke 2 en 3 bygewoon. Hy het ook deelgeneem in die CEPT-voorbereidings vir WRC-03 en WRC-07 as die Noorweegse afgevaardigde vir radioamateurbelange.

Garpestad is ‘n telekommunikasie- en radio-ingenieur en werk aan ontwikkeling en stelselontwerpe, asook programbestuur van taktiese kommunikasiestelsels vir die firma Thales Norway AS (voorheen bekend as Alcatel). Hy het ‘n MSc in elektroniese ingenieurswese en radiotegnologie van die Tegniese Universiteit van Noorweë in Trondheim ontvang.

Om meer inligting hieroor te bekom, sowel as ander verwante nuusitems, besoek gerus www.sarl.org.za.

AMATEUR-NOODKOMMUNIKASIE HELP MET AUSTRALIESE VELDBRANDE

Die Wireless Institute Civil Emergency Network in Victoria, Australië, is besig om kommunikasieskakels te verskaf in baie van die areas wat deur die verwoestende veldbrande geraak word. Operateurs word deur die polisie en plaaslike brandweerowerhede na hulle poste in die gevaarlike areas geneem.

Paaie is nog steeds gesluit en die brande woed voort. Soms moet die brandweerowerhede mense wat belangrike take uitvoer onttrek omdat dit net te gevaarlik word. Tenminste twee amateurspraakherhalers is al deur die brande bedreig, maar toerusting is op bystand om dit te vervang. ‘n Noodnetwerk-draagbare herhaler is ook in die gebied opgerig.

BELANGRIKE INTEGNET AANSTAANDE NAWEEK

Die volgende Integnet vir 2009 vind plaas om 19:30 op eerskomende Sondag, 22 Maart. Dit sal ‘n uitgebreide program wees met verskeie sprekers oor SumbandilaSat, die tweede Suid-Afrikaanse satelliet wat op 25 Maart 2009 vanaf die Baikonur Cosmodrome in Rusland gelanseer word.

Andrew Roos en Hannes Coetzee gaan gesels oor hul betrokkenheid by, en ontwerp van die radioamateurtoerusting aan boord van die satelliet. Dr Gert-Jan van Rooyen van die Universiteit van Stellenbosch gaan die sagteware-gedefinieerde transpondeerder bespreek, asook die hardeware wat die werking van die papegaaiherhaler, transpondeerder en bakenstelsel, beheer.

Besonderhede sal voorts bespreek word oor die werking van die satelliet en die toerusting wat benodig word. Daar sal ook tyd ingeruim word vir vrae en antwoorde, asook ‘n bondige bespreking oor die volgende satellietprojek. SA Amsat sien uit na u bydraes.

Klubs wat wil graag hul plaaslike herhalers aan die net wil koppel – stuur asseblief ‘n e-pos aan armi@sarl.org.za nie later as Dinsdag nie. Voorsien asseblief die telefoonnommer wat gekoppel moet word, sowel as die herhaler se dekkingsgebied.

TINUS LANGE-TEGNIESE UITMUNTENDHEIDSTOEKENNINGS

Vandag, Sondag 15 Februarie, is die sluitingsdatum vir inskrywings vir die Tinus Lange-tegniese Uitmuntendheidstoekennings.

KOMPETISIENUUS

2009 RSGB-GEMENEBESKOMPETISIE

Andrew, ZS6AA, is op soek na GG-operateurs wat graag die ‘Span Afrika’ in die 2009 RSGB-Gemenebeskompetisie wil verteenwoordig. Die kompetisie vind plaas oor 24 uur vanaf 12:00 op Saterdag, 14 Maart, tot 12:00 op 15 Maart. Spanne bestaan uit tien lede wat vanaf hulle tuis- of klubstasies werk, en die individuele tellings word bymekaargetel vir die spantotaal. As u ‘Span Afrika’ in hierdie gesaghebbende GG-kompetisie wil verteenwoordig, kontak asseblief vir Andrew, ZS6AA, per e-pos na andrew.roos@mweb.co.za of per telefoon op 082 577 4980.

Die SARL HAMNET-40 meter-gesimuleerde Noodkommunikasiekompetisie word op Sondag 1 Maart 2009 van 14:00 tot 16:00 SAT gehou. Hierdie ESB-kompetisie is oop vir alle radioamateurs in Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Zimbabwe, Swaziland, Mosambiek, Lesotho, Marion-eiland en die Suid-Afrikaanse basis op Antarktika. Slegs kontakte met hierdie areas sal vir die kompetisie tel. Daar is ‘n Excel-spreiblad beskikbaar om u te help – besoek die ’HF Happenings’-bladsy op www.sarl.org.za.

Die eerste been van die SARL BHF/UHF-kompetisie word oor die naweek van 21 en 22 Maart 2009 gehou. Nuwe reëls is vir die kompetisie geformuleer. Dankie aan Johan, ZS6JPN, Martin, ZS6ZY, en Richard, ZS6UK, vir u bydraes.

Die reëls vir beide die kompetisies in die 2009 SARL-Kompetisieboek op www.sarl.org.za. Verseker dat u weergawe ‘03/ Februarie 09’ het.

KLUBNUUS

Die Kemptonpark Amateurradiovereniging gaan die Klas B-kursus aanbied. Dit begin op 21 Maart 2009 met die oog op die RA-eksamen in Mei. Die klub gaan ook 'n praktiese elektroniese kursus aanbied vanaf 28 Februarie 2009, om studente se elektroniese vaardigheid te verbeter met 'n konstruksieprojek aan die einde van die kursus. Besoek asseblief die klub se webwerf by www.karts.zar.cc vir kontakbesonderhede.

Die volgende Pretoria Amateurradioklub se Mega-snuffelmark word op Saterdag 7 Maart vanaf 08:00 gehou. Dit vind plaas word op dieterrein van die Pretoria-motorklub op die hoek van Keuning- en Fred Davey-strate in Silverton – langs die Pioniersmuseum. Om 'n tafel te bespreek of meer inligting te bekom, skakel Almero, ZS6LDP, by sy huisnommer 012 567 3722 of op sy selfoon – 082 908 3359.

Die AJV van die Overberg Amateurradioklub is op 7 Februarie op Hermanus gehou. Die vergadering is goed bygewoon en ‘n nuwe komitee is verkies:
Voorsitter en redakteur: Andre Meintjes, ZS1AZ;
Ondervoorsitter: Sam MaCleary, ZS1OR;
Sekretaris: Lindsay Magnus, ZS1LGM, en;
Tesourier: Rian van Niekerk, ZR1RVN.

Baie dankie aan die uittredende komitee vir hulle werk die afgelope jaar.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

15 en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15- en 20 m-openinge na Indië vanaf 14:00 SAT. Kontakte met Nieu-Seeland gaan uitdagend wees. Om 08:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Australië. Kontakte met Peru is onwaarskynlik. Brasilië kan waarskynlik op 15 m vanaf 14:00 en 20 m vanaf 19:00 gewerk word. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike kort, swak 15 m-openinge na Europa, wat deur kort 20 m-openinge gevolg gaan word. Kontakte met die VSA se Ooskus is op 15 m vanaf 18:00 moontlik en om 22:00 kan 20 m ook oopmaak. 10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Selfs 20 m ontwaak voor oggendtee. Saans is 80 m die beste keuse. Met die somer hier kan die donderstorms en statiese ontladings uitdagende toestande skep.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u steeds aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

Ten slotte:

DAGBOEK VAN GEBEURE

15 Februarie – Sluitingsdatum vir inskrywings vir die Tinus Lange-toekennings;
21 Februarie – PIC-kursus in Durban en HAMNET Suid-Gautengvergadering;
1 Maart – HAMNET 40 meter-kompetisie;
7 Maart – PARK Megasnuffelmark;
14 en 15 Maart – RSGB-Gemenebeskompetisie;
21 Maart – BACAR-lansering;
21 en 22 Maart – SARL BHF/UHF-kompetisie;
24 - 26 April – SARL se Nasionale Konvensie in Kaapstad.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n PODCAST-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel, en deur Jannie, ZR6PHD, geredigeer is.

Dankie dat u geluister het. 73.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003